Doringboom

Tarentaal     tuisblad toe oorsig toe blaai terug blaai om Deutsche Fassung Français - Español - English Stuur vir ons 'n e-pos!     

Doringboom

www.suid-afrika.de

Wie praat Afrikaans?

Afrikaanssprekende mense ("Afrikaanses") word in al die bevolkingsgroepe van Suider-Afrika aangetref,  maar die oorwegende meerderheid van hulle is twee etniese groepe wie se getalle naastenby gelykop is, nl. die Kleurlinge (Bruinmense) en die Afrikaners (Boere).

Boeregesin, Noord-WesDie Afrikaners is nakomelinge van die eerste setlaars wat hulle vanaf 1652 in die Hollandse Kaapkolonie gevestig het. Verskeie nasies het volgens die jongste navorsing die volgende aandeel geneem in die ontstaan van die Afrikanervolk: Nederlanders 37%, Duitsers 35%, Franse 15%, ander Europeërs 6%, Asiërs en Afrikane 7%. Reeds na enkele geslagte aan die Kaap het hulle begin voel dat hulle nie Europeërs is nie, maar 'n eiesoortige volk van Afrika. Die beroemde aanhaling uit die jaar 1707 "Ik ben een Afrikaander!", 'n uitroep van verset teen die Hollandse amptenary, spruit uit die mond van ene Hendrik Bibaut, 'n jong Kaaplander van Franse en Nederlandse afkoms.

Rehoboth Basters, NamibiëDie Kleurlinge is 'n heterogene groep wat ontstaan het uit die vermenging van Europeërs, inheemse Khoi (Hottentotte) en slawe uit die Ooste. Laasgenoemdes is hoofsaaklik uit die destydse "Indië" (vandag Indonesië, Maleisië, Sri Lanka en die eintlike Indië), Madagaskar en Oos-Afrika na die Kaap gebring. Die oerbevolking van die Kaap het deur epidemieë en vermenging met ander rasse amper volledig verdwyn. Slegs die Nama in Namibië kan vandag nog as Khoi beskou word. Onder die Kleurlinge tel taamlik verskillende groeperinge soos die Kaapse Kleurlinge, die Islamitiese Kaapse Maleiers in Kaapstad en omgewing, die Griekwas in die Noord- en Oos-Kaap en die Rehoboth Basters in Namibië.

'n Klein persentasie Asiërs in Suider-Afrika gebruik Afrikaans as huistaal, nes sommige kleiner stamme onder die Swartafrikane. Die meeste mense van dié twee bevolkingsgroepe gebruik Afrikaans egter as tweede taal naas hulle moedertale. Boonop gebruik ook die meerderheid van Engelssprekende Suid-Afrikaners Afrikaans as tweede taal. 

Waar word Afrikaans gepraat?

Afrikaanssprekendes is oor die hele Suider-Afrika versprei. Party streke is egter "meer Afrikaans" as ander. Die Suid-Afrikaanse provinsies Wes-Kaap en Noord-Kaap, asook die westelike gedeelte van die Oos-Kaap, het Afrikaanse meerderhede, want dit is waar die meeste Kleurlinge woon. Die provinsie Gauteng het die grootste aantal Afrikaners en dus 'n relatiewe Afrikaanse meerderheid. Die provinsies Vrystaat en Noord-Wes het 'n aansienlike Afrikaanse inslag; daarenteen word daar in Kwazulu-Natal die minste Afrikaans gehoor. Van die groot stede het Pretoria en Bloemfontein 'n sterk Afrikaanse karakter, terwyl Johannesburg en Durban eerder Engels-georiënteerd is. Kaapstad aan die ander kant is hoofsaaklik Afrikaans, maar sy Engelstalige minderheid speel 'n toonaangewende rol in dié stad. In Nambië is Afrikaans, behalwe in die Caprivi-strook, orals as omgangstaal versprei, maar die moedertaalsprekers word eerder in die suidelike en sentrale gedeeltes as in die noorde van die land aangetref. 

boontoe  © Doringboom®. Laas bygewerk op 25-05-2018. Stuur vir ons 'n e-pos!

Impressum - Haftung - Datenschutz

reisdiensteAfrikaansontstaansprekersgrammatika uitdrukkingstaalkursussevertalingsons winkelinternetskakelstarentaal